’n Naam is nie net ’n roepding nie. Dis ’n ding wat jóú roep. Só het oom Dahm vir Gert Saggiestrap terug lewe toe probeer bearbei. Toe reeds 14 jaar sy spoor byster in die oer-rivierlope van die ua pukiro in die Omaheke. Nes sy pa met die goeie hart en sy ma met die stukkende verlede was hy ’n boesmankind van die Nuwe Tyd waarin inkommers om en oor die boesmans kom grenspale slaan het. Vir die ellende van hierdie gestroopte bestaan was Gert nie geoormerk nie. Maar toe kom Goeie Vrydag van sy 15de jaar. Die geeste van die dode het vir die eerste keer om hom kom draal. Dié lei hom terug op ’n donker pad wat met die spore van sy oudste voorsate langs loop: na wat dit beteken om ’n boesman te wees met sand-ankers in jou herkoms en ’n hand op die hefbome van die toekoms. Gert Saggiestrap loop soek sy hart, vat sy naam en vind daarin opgesluit sy groot gawe.